Tag - Beleggings

Belegging in ‘n beermark?

24 Januarie 2016

Hoe om te belê in ‘n beermark?

Om slim te belê in 2016 gaan beteken dat jy jou voetwerk moet ken.

Einde Desember 2015, na die Zuma debakel, en vroeg in Januarie, met die market wat maar baie droefgeestig geopen het, was dit interressant om almal se opinies te hoor. Die meeste se mening was: hou jou belegging in kontant en wag tot die markte weer draai. Ek is effens skepties oor die benadering want dit was nogal dieselfde benadering wat baie gevolg het in 2008 toe die markte pak gekry het, met die Amerikaanse huismark wat in duie gestort het.

Wat in die praktyk gebeur is, mense haal hulle geld uit beleggings uit en sit dit in geldmarkte in. Maar hulle doen dit op ‘n punt waar die markte alreeds laag is net om dit weer te belê as hulle seker is dat die markte weer sterk is. Wat in effek gebeur is, jy haal jou geld in die onderpunt van die kurwe uit, en as die markte weer bo is sit jy dit weer terug, wat beteken dat jy uitmis op die groei boontoe.

Wat nou gedoen? Gebruik hierdie eenvoudige vyf punt plan vir jou belegging in 2016:

1. Bepaal waar jy is:

Is jou geld reeds in die mark of moet jy nog belê? Hoe lank moet jy nog belê – langer as vyf jaar of korter? Dit is van die belangrike vrae wat jy vir jouself moet afvra.

2. Besluit op ‘n basiese “in-uit-strategie”:

Die vraag is wanneer moet ek in en wanneer moet ek uit? As jou geld reeds in die mark is, los dit daar. In 2008, met die val van die markte, sou jy na 3 jaar weer gelyk gebreek het as jy nie aan jou belegging geraak het nie. As jy nog in die mark moet inkom, plaas dit in iets soos ‘n geldmark belegging en fasseer dit stelselmatig (00r 12 mnde of so)  in soos die situasie in die land en wêreld verbeter. Beermarkte hou gewoonlik nie lank nie.

3. Besluit op Buiteland vs Binneland:

Baie wil nou net belê in die buiteland. Die waarheid is dat daar op die oomblik net ‘n handjie vol buitelandse maatskappye is wat sterk is. En om nou in hulle te belê beteken weereens dat jy aan die bo-punt van die kurwe inkom en dit terwyl die rand reeds teveel veld teen die dollar verloor het. Ekonome is dit eens dat die rand ver onder evalueer is wat beteken dat hy nog kan terugtrek. Belê eerder in Suid-Afrikaanse maatskappye met ‘n sterk buitelandse belang soos Richemond, Mediclinic, Old Mutual, SAB ens.

4. Neem ‘n besluit waarmee jy gemaklik is:

Toets jou besluite deur dit met ‘n kundige te deel wie jy vertrou, en neem dan ‘n besluit waarmee jy gemaklik is. ‘n Goeie beleggingsvraag is nie net om te vra: Hoeveel groei wil ek he nie? Soms moet ek ook vra: Met watter verliese sal ek mee kan saamleef?

5. Hersien jou besluit:

Om elke dag, of elke maand jou geld dop te hou en dan paniekerig te raak oor die skommelinge van die markte sal jou vreugde steel. Kyk darem ten minste elke 6 maande tot ‘n jaar na jou beleggings en besluit dan of jy nog op die regte koers is.

Ten slotte: Beleggings, veral as jou lewe daarvan afhang, kan ‘n mens bang maak. Daarom moet ‘n mens dit berekend en met ‘n duidelike doel voor oë beplan. Hou dan by jou plan en moenie toelaat dat jou emosies op hol raak nie. Die wiel draai altyd.