Tag - Werknemersvoordele

Onttrekking uit my aftree-fonds

Ek is van mening dat die aftree-bedryf in die meeste gevalle nie geslaagde is in sy doel om mense te help aftree nie. Een van die groot redes hiervoor is die opsie wat mense het om hulle aftree-geld by verwisseling van werk te kan neem as ’n onttrekking. Die rede waarom ek so sê lê op, 1. ’n belasting vlak en 2. ’n lewensstyl vlak.

1. Verstaan die belasting konsekwensies van ‘n onttrekking:

‘n Paar jaar gelede het die regering die vergunning gemaak dat indien iemand retrench word voor die ouderdom 55 dat hy wel sy aftree-voordele kan neem as ‘n aftree-voordeel en nie as ‘n onttrekkingvoordeel nie. Die verskil tussen die twee voordele is geweldig. Op ‘n onttrekking is net die eerste 25 000 belasting vry terwyl op ‘n aftree-voordeel die eerste 500 000 belasting vry is. Voorts word onttrekkings wat geneem is na 1 Maart 2009 weer in berekening gebring met die belasting berekening op aftrede. Om ’n onttrekking te neem wat meer is as 25 000 beteken dus dat jy uitmis op 500 000 belasting vrye deel van ’n aftree-voordeel EN jy word weer belas op die onttrekking wat jy geneem het op aftrede.

2. Op ‘n lewensstyl vlak beteken ‘n vroeë onttrekking dat jy uitmis op ‘n belegging wat in rente-op-rente groei. Dit is ’n belegging wat veronderstel is om vir jou te sorg na aftrede. In my ervaring is dit minder as 1% mense wat hulle aftree-geld herbelê as hulle uit die werkgewer se diens uittree. Gewoonlik word die onttrekking gemaak ter wille van kort termyn behoeftes soos om geld op ‘n huis te sit, ‘n kar te koop en dikwels sommer net om van te leef. Sodoende word huidige leefstyl behoeftes bevredig ten koste van lewensnoodsaaklike versorging na aftrede.

Die slotsom: jy verloor al die pad as jy jou geld onttrek as jy die maatskappy se diens verloor. Al voel dit asof jy min geld in jou aftree-fonds het; spaar dit eerder. Dit is makliker, terwyl jy nog ander planne kan maak, om nou sonder die onttrekking-geldjie te leef, as om op jou ou dag waar jou opsies, kragte en gesondheid minder is sonder aftree-geld te moet leef.